Wat is PSMK?
Waarvoor staan PSMK?
PSMK staan vir President Staatmakers. PSMK is die enigste Staatmakergroep in die Vrystaat.
Staatmaker wat?!
Indien jy dalk nie heeltemal die Staatmaker-ding verstaan nie, moet nie vrees nie. Dit is eintlik baie eenvoudig. Die Staatmakers is deel van die Voortrekkerbeweging. Staatmakers is daardie groep jongmense (ouderdom 18-35 jaar), wat graag deel wil bly van die Voortrekker-beweging, maar nog nie offisiere by 'n kommando wil of kan word nie.
Wat doen PSMK?
Die vraag is eintlik nie so maklik om te antwoord nie. Aangesien PSMK 'n Voortrekkergroep is, is ons hoofdoel om die belange van die Voortrekkerbeweging te bevorder. Ons bied ook veral handuitreike (nagmarse, speletjies en ook kampe) vir skoolkommando's aan en hulle is welkom om enige tyd met ons in verbinding te tree. Kyk gerus by die PSMK-bestuur om kontaknommers te kry.
Voortrekkers? Jy spot seker...
Ja, jy het reg gelees. Die Voortrekkers. Ek moet jou egter teleurstel. Indien jy graag met ossewaens oor die berge wil trek en kappies in jou af-tyd dra - dan is hierdie groep nie vir jou nie. Jammer. Jy gaan beslis 'n paar skewe kyke kry as jy met jou ouma se kappie en bruin uniform by ons opdaag.
Nou wat dan?
PSMK se aktiwiteite word vasgestel deur PSMK se eie lede. Die formele PSMK-byeenkomste vind op Donderdagaande 19h00 by ons nuwe Groepkamer plaas. Die programme word so aangebied dat die deursnee PSMK-lid dit interresant vind.